Luistergroepe is ruimtes om vir die beoefening van die geestelike dissiplines van stilte rondom die Skrif. Lectio Divina is ‘n antieke Christelike praktyk van meditasie, gebed en Skriflesing. Ons luister na die teks van die Bybel met die “oor van die hart” - in God se teenwoordigheid. Die manier van Lectio Divina sluit in momente van lees (lectio), die refleksie op (meditatio), die reaksie op (oratio) en die rus in (contemplatio) die Woord van God.
Elemente van ‘n hulpvolle praktyk kan wees:
Vind ’n stil plek – en sny jou af van stimulasie (selfoon, televisie, radio, geraas).
Doen wat jy nodig het om teenwoordig te wees.
Baie mense vind dit voordelig om te konsentreer op hulle liggaam – om bewus te word van die stoel waarop jy sit,
of om te konsentreer op jou asemhaling.
Sit in ’n posisie wat jy gemaklik kan volhou vir ‘n hele tydjie.
Lees die Skrifgedeelte vir die eerste keer deur – stadig en aandagtig.
Lees die Skrifgedeelte vir ’n tweede keer deur.
Watter woord, konsep of beeld staan vir jou uit en tref jou hart?
Reflekteer op dit wat na jou toe gekom het uit die Skrifgedeelte.
Hoe word my lewe hierdeur geraak?
Hoe sal dit lyk, voel en wees as ek dit leef?
Wat het ek nodig om dit te doen?
Reageer met ’n persoonlike en spontane gebed.
Word vir ‘n vasgestelde tyd (begin met 10 minute) stil.
Bring jou gedagtes, hart en gemoed tot stilte – waar jy net saam God kan wees – bewus van sy liefdevolle teenwoordigheid.
Om innerlik stil te raak, kan een van die volgende maniere jou help:
* herhaal ’n kort gebed (bv. die Jesus-gebed: “Jesus Christus, Seun van God, wees my, sondaar, genadig”
of “Maranatha – kom, Here Jesus” )
* keer eenvoudig terug deur ‘n gebedswoord (bv. Jesus, liefde, Vader, Immanuel) wat jou intensie bevestig om
by God te rus sodra jy daarvan bewus word dat jou gedagtes dwaal.
Kom stadig uit die stilte met ’n gebed.
Ons gee geleentheid om te vertel wat die Skrif aan elkeen gedoen het.
Ons luister respekvol en aandagtig, sonder om te reageer en antwoord.
Luistergroepe fokus op die saam-stilword rondom ‘n Skrifgedeelte (Lectio Divina). Indien daar gepraat word, word gedeel wat ervaar is, sonder verduideliking of bespreking.