Onderwerp “Visie en missie”

Visie en missie

Mosaïek se visie en missie

 

Visie

Om ’n Kontemplatiewe Missionele Gemeenskap te wees waar soekendes kan groei in die kuns van lewe.

Missie

Om Hom te ken en saam Hom bekend te maak.

 

“As each of you has received a gift, employ it as good trustees, exhibiting the different colours of God’s many sided, extremely diverse grace.”

1 Peter 4:10 (Msg)

Mosaïek verwys na ’n antieke kunsvorm ... die mees antieke en verhewe kuns is natuurlik die lewe self. Wys heen na die antieke Griekse wêreld, waar die wortels van die Nuwe Testamentiese kerk lê.

Dit praat van die skepping van skoonheid, orde en ontwerp vanuit gebrokenheid ... die kuns waarmee die kerk ook besig is. Die saambring van diversiteit tot eenheid, veelkleurigheid en saamgeweefdheid. Die uitdrukking van kuns wat die wêreld inspireer en van die Skepper vertel.

Mo-sa-ic: Of Greek origin, ’patient work of art, worthy of the muses’.

Profiel

’n Post-denominele1gemeente in die Noord-Weste van Johannesburg wat onder huidige leierskap sedert 1987 mense begelei in die kuns2 van lewe. Deur die metafoor van drie bewegings, word soekendes3 uitgenooi om meer geïntegreerd en wholisties4 te groei in hulle verhouding met die Here, en dus ook te groei in begrip oor wie die Here hulle individueel gemaak het (OPwaarts5); om hulle lewens diep te deel met ander mede-volgers van Jesus (METwaarts6); en om hulle unieke gawes, talente, passies en persoonlikheid aan te wend om die wêreld ’n beter plek te maak (UITwaarts7). 

1Alhoewel Mosaïek oorspronklik uit ’n pinkster-agtergrond gebore is, het blootstelling aan die evangeliese en kontemplatiewe wêreld die gemeente laat ontwikkel in ’n gemeenskap waar verskillende Christelike tradisies en erfenisse verwelkom en gevier word; iets wat ons beleefoplyn met die psige van die post-moderne wêreld waarin ons onsself bevind. Eerder om vrae te stel van ‘Of’, wil ons die paradokse van ‘En’, ondersoek.

2Kuns spreek van ’n bekwaamheid, ’n vernuftigheid; en waar dit met die lewe verband hou, glo ons dat ons in die lewe wat Jesus kom modelleer het, geïnspireer kan word en kan leer hoe om die lewe aan te pak, en te ‘beleef’ soos Hy dit bedoel het.

3Ons almal bly soekende pelgrims op die lewenspad. Soos ons as volgers van Jesus die weg probeer stap, besef ons dat ons honger en dors net deur Hom gevul kan word — al loop ons hoe lank reeds op die weg.

4Ons sien in Jesus se lewe ’n voorbeeld van integrasie. Hoe elke dimensie van sy lewe verband gehou het, en beïnvloed is deur die ander. Ons spiritualiteit is nie ’n kompartement van ons lewe nie, maar ’n integrale deel wat omvorm hoe ons omgaan in verhoudings, werk, stres hanteer, ons liggaam versorg en dies meer. God is in elkeen van ons lewensdimensies te vinde, en ons wil groei om Hom uit te nooi om dit te vorm na sy wil. (Wholisties teenoor Holisties)

5Die ‘Ek-U’-verhouding is ’n fundamentele deel van ons lewe — hoe ons verhouding met die Here lyk. Hoe om biddend die lewe aan te pak; Iemand en iets om in te glo! Dit impliseer ’n intieme wroeging waar God ons kan vorm, en ons groei in liefde en bewondering vir Hom. Vanuit hierdie verhouding spruit die bron van ware lewe.

 

6Die ‘Ek-Jy’-verhouding praat van die diep-gewortelde behoefte om jou lewe met ander te deel, op ’n diep, onderskeidende, aanspreekbare wyse. Mense wat heg verbind is tot jou welstand, herstel en vooruitgang — en saam met jou na die Here kan gaan met jou lewe. ’n Gemeenskap van Volgers van Jesus.

 

7Die ‘Ek-Dit’-verhouding het te doen met die verbintenis wat ons maak om die wêreld te verbeter: om geregtigheid te laat geskied, om te versorg, te vertroos, te inspireer — of waarookal ons unieke gawes, talente, passies en persoonlikheid ons heen begelei om missioneel in te span.

X
Loading