God is liefde en dit beteken dat dit eie aan Hom is om in verhouding te staan. In die Vader-Seun- Heilige Gees verhouding is daar ‘n wonderlike band van liefde. Dis ‘n verhouding van aanvaarding en ’n ingesteldheid op die mekaar.
Dit is die lewe – verhouding in liefde.
Ons is net so gelukkig as wat ons in ons verhoudings is. Maar in verhoudings kry ons ook seer. Tog is dit juis in verhoudings waar ons genesing vir hierdie pyn lê. Ons herstel, ontwikkel en groei weer deur verhoudings. Dis hoe God ons gemaak het.
Ons is geskape om in ’n ek-U, ek-jy en ek-dit/ek- wêreld verhouding te leef en te beweeg. Ons sien dit in Jesus se lewe. In die nag gaan Hy eenkant toe om te bid – die beweging na God toe (ek-U). Die volgende oggend kies Hy Sy twaalf dissipels en begin die lewe diep met hulle deel – die beweging na mekaar toe (ek-jy). Daarna gaan hulle saam uit om te bedien – die beweging na buite toe (ek-dit/ek-wêreld).