Mosaïek het in Maart 2004 die fasiliteite in Daniellestraat, Fairland in gebruik geneem en was opgewonde oor die kerk se hervestiging vanuit Weslaan, Randburg. Daar is uitgesien na die geleentheid om in die nuwe woonbuurt, en nader aan die Wesrand, ’n sinvolle bydrae te lewer in die gemeenskap waarin die gemeente homself bevind het.
Deel van die inisiatiewe wat aangepak is om ’n bydraende inwoner van Fairland te wees het oor die laaste ses jaar ontwikkel tot gereelde besoeke en bekende gesigte: soos die plaaslike SAPS wat gereeld van die fasiliteite van die kerk gebruik maak. Die laaste hiervan was ’n Vrouedag-viering waar daar, in samewerking met spanne uit die kerk, ’n spesiale dag saamgestel is om die kosbare vroue in hierdie beroep te dien; of organisasies wat hulle bemoei met VIGS-opvoeding of werkswinkels vir die versorging van weggegooide baba’s of mishandelde kinders. Die bloedbank het gereeld kom inloer met inisiatiewe waar hulle kwartaalliks ’n bloedskenkingsfasiliteit kom bied het, tot aksies vir die bewusmaking onder die gemeenskap van die belangrikheid van bloedskenking. Skole in die gemeenskap gebruik ons fasiliteite vir prysuitdelings en konserte, en ander kerks, wie se fasiliteite dalk nie soveel ruimte toelaat nie, het ook al in die Teatro kerkgangers uit hulle geledere genooi om hier te vergader. Bogenoemde maak deel uit van die sowat 15% van die gebruik van ons fasiliteite – in lyn met die kerk se doelwit om die gemeenskap te dien.
Soos enige inwoner van enige dorpsgebied streef die kerk daarna om ’n goeie buurman te wees, en waarde toe te voeg tot die omgewing waarin hulle hulself bevind. Berading, mediese sorg, terapie en ’n toeganglike kerkruimte vir stilword is maar net ’n paar van die dienste wat deurlopend beskikbaar is vir mense wat hulleself in nood bevind, met gereelde verwysing deur die plaaslike polisiestasie van persone wat hulle dink baat sou vind by hierdie inisiatiewe.
“Ons sit baie in om ons goeie verhouding met ons bure in stand te hou, en was verras om deur die media in kennis gestel te word oor hierdie besware,” meld Tiaan Willemse, navigasieleier van Mosaïek. “Deur middel van pro-aktiewe kommunikasie en die hantering van terugvoer op navrae, is ons steeds ten volle verbind tot die instandhouding van goeie verhoudings met ons bure. Tans is die verhouding met die meenthuis-komplekse se korporatiewe liggame in die omgewing van so ’n aard dat van hulle hul groot vergaderings gratis op die Mosaïek-perseel hou,” noem hy verder. Hy meld ook dat versoeke en besorgdhede van die bure hoofsaaklik rondom slegs ‘n paar faktore gedraai het, wat altyd so spoedig moontlik ondersoek is met terugvoering aan belanghebbendes.
Volgens die inligting wat deur raadgewers en spesialiste ontvang is, is alle nodige prosedures nagevolg soos deur hulle geadviseer en die nodige toestemming is verkry. Verder was daar ook kennisgewingborde aangebring om bure te verwittig en hulle is betrek en in ag geneem by die beplanning van die perseel se geboue. Mosaïek het tydens die bou van die perseel voldoen aan alle bouregulasies, en deur die loop van die kerk se bestaan steeds moeite gedoen om te verseker dat dit in plek bly.
Om die verkeersvloei te vergemaklik is Daniellestraat deur die kerk verbreed, met ’n spesiale middelmannetjie en inglipbaan-aanpassings uit Davidsonstraat, asook ’n addisionele uitgangsroete wat deur die kerk geskep is. Tydens kerkbyeenkomste, wanneer daar druk verkeer verwag word, word verkeerspuntsmanne op 14de-laan gereël asook iemand om persone wat uit ’n naburige meenthuis-kompleks wil kom voorkeur te bied.
Waar nodig, word die plaaslike owerheid se goedkeuring vir geleenthede op die perseel verkry. Vir dié geleenthede word daar ook ekstra personeel aangestel vir sekuriteit, risikobeheer en verkeersbeheer. Die plaaslike owerheid inspekteer ook gereeld alle fasette van ons fasiliteite.
Op die klank-front het die kerk ook reeds ’n hele aantal aksies geneem. “Met die konstruksie-beplanning van die fasiliteit is ’n vooraanstaande akoestiese- en teaterontwerp-spesialis, wat op daardie stadium een van die toonaangewendste en mees gerespekteerde name in die arena was, gekontrakteer met die konstruksie-ontwerp, en inagneming van enige moontlike voorsienbare ontwrigtingsfaktore.”
Verder het die kerk op ’n klanktoestel besluit wat klank-energie baie akuraat op die gehoor fokus, met die minimum klank wat ontsnap na areas waar ons dit nie wil hê nie. Alle ingange na die Teatro is met dubbeldeure toegerus, om ’n klank-slot te skep. ’n Spesiale klank-ondersoek is ook van stapel gestuur in 2006 deur ’n onafhanklike, akoestiese ingenieursfirma en al hulle voorstelle is geïmplementeer.
“Ons poog van harte om ’n goeie inwoner van Fairland te wees en ons ondersoek deurlopend inisiatiewe om dit te bewerkstellig,” sluit Willemse af.
Mosaïek nooi steeds hulle bure uit om met hulle te gesels oor enige aangeleenthede en beskou dit steeds ’n voorreg om die gemeenskap van Fairland en die Wesrand te dien. Mosaïek kan gekontak word op 011 268 4700 of raadpleeg www.mosaiek.com .
/end
Navrae oor artikel:
Madalene van Zyl
mvanzyl@mosaiek.com
011 268 4767
Op 20 Augustus het ons journey saam met die produksiespan, Nevermachine en M-Net begin met die aanvang van die realiteitsvermaaklikheidsprogram, Idols, wat weekliks op Dinsdae en Vrydae in die Teatro van Mosaïek opgeneem word. Tot met 2 November, wanneer die resultaatsvertoning plaasvind, het ons die geleentheid om skouers te skuur met toonaangewende spelers in hulle arena: van kunstenaars, musici, tegnikunste tot produksiebestuurders, en om hulle op hierdie manier kan dien.